JOIN OUR MAILING LIST
Newsletter
Newsletter


2014-06-02
Nuusbrief Mei 2014


Liewe Vriende!
 
Vandag wil ek net kom en bietjie terugvoer gee van wat alles tot dusver gebeur het in 2014 en waarmee ons tans besig is. Wat ‘n wonderlike voorreg om daagliks ‘n pad met die Here te stap. Alle eer aan God!!!Ons opedag vir My Father’s House (n huis vir verwaarsloosde en mishandelde kinders uit ons omgewing) is Donderdag 15 Mei 2014 enige tyd van 07h00 tot 19h00.Ons is baie opgewonde oor die nuwe projek. Dis waarlik iets wat God op ons harte geplaas het, bid asb saam met ons daarvoor


1.   Kosverspreiding :-
Ons kosverspreiding het geweldig verhoog a.g.v. van die vreeslike nood en verhoogde werkloosheid in ons dorp. Die myne wat so baie mense afgedank het verseker ‘n enorme nood na broodnodige items veroorsaak. Mense kom klop by die dosyne aan ons deur op ‘n daaglikse basis. Dit het so erg geword dat ons genoodsaak was om ‘n hek aan te bring en om baie meer duidelike riglyne vas te stel oor wanneer ons kan help. Dit is absoluut hartverskeurend om die pyn en moedeloosheid so intensief te beleef en veral die kinders wat so geweldig geraak word deur die armoede en werkloosheid. Ons gaan haal nogsteeds ‘n paar maal per week kos by verskeie winkels en versprei dit op ‘n daaglikse basis. Weens die verhoogde behoefte het ons by nog ‘n groot winkel aansoek gedoen vir kos en ons hoop om binne die volgende 2 weke ook by hulle te begin kos afhaal.
 
2.   Tieneropheffingsprojek :-
Ons tieners in die koshuise presteer goed en ons ondersteun en help sover ons kan dat hulle ook ‘n kans kan he om in normale omstandighede skool te gaan. Die koste per kind per kwartaal beloop ongeveer R4500 vir die koshuis maar dit gee hulle stabiliteit, elke dag kos en ‘n plek waar hulle kan huiswerk doen en leer. Baie arm kinders wat in karavane woon sukkel so om by die skool te kom, moet baie keer kilometers in die modder en donker loop en het baie keer nie eers elektrisiteit by die huis nie wat dit ontsaglik moeilik maak om normal op skool te presteer. Ons het tans 3 kinders wat ons graag so ondersteun.

 

Ons het ook verskeie arm kinders wie se busgeld ons borg. Die kinders bly meestal op afgelee gebiede en as die ouers nie hul busgeld skool toe betaal nie word hulle baie verneder deur nie toegelaat te word om bus te ry nie. Die koste per kind is R550 per maand. Een van die mammas werk vir slegs R100 ‘n dag en dis net totaal onmoontlik om dit te betaal. Ons koop ook skoolklere en skoene aan. Hulle voel so minderwaardig as hulle nie die regte klere het nie en kom ook soms in die moeilikheid daaroor. Ons verskaf ook skryfbehoeftes sover ons moontlik kan. 
Ons sorg ook dat hierdie swaarkry kinders ten minste koek kry as hulle verjaar.
 
3.   Tienerswangerskappe :-
Hierdie is ook ‘n groot uitdaging. Ons ondersteun jong swanger meisies om die regte keuse te maak (m.a.w. aborsie is nie die oplossing nie) en skryf hulle dan in by die Hospitaalskool in Pretoria. Ons betaal dan ook vir hulle om in die koshuis daar naby te bly waar hulle deurlopend deur ‘n maatskaplike werker ondersteun word gedurende die swangerskap. Die kostes beloop R1600 per kind per maand vir beide die skool en koshuis.

4.   Tersiere opleiding :-
Ons het tans 3 studente wat ons ondersteun. Die 1 meisie se pa is ‘n karwag.  Sy studeer onderwys by Tuks en is die eerste persoon in hulle familie wat so kans kry. Sy kom uit uiterste armoede en die aanpassing aanvanklik was maar baie moeilik maar dit gaan nou baie goed met haar. Die tweede student se droom is om ‘n meganiese ingenieur te word, hy het keuring by die PUK gekry en dit gaan baie goed met sy studies. Ek glo hy sal definitief ‘n beurs volgende jaar kry. Ons moet hom net help om sy eerste jaar agter die rug te kry. Dan het ons ‘n 4de jaar onderwys student wat ons verlede jaar ook ondersteun het. Sy pa werk ook by die myn en weens al die stakings kan hy nie verder vir hom betaal nie. Hy is so naby aan sukses en om die armoede siklus te oorwin.

5.   Kinderhuis :-
Ons nuutse projek “My Father’s House” is ‘n huis wat ons begin het om verwaarloosde en mishandelde kinders ‘n veilige tuiste te gee. Ons het ‘n pragtige huis gekry wat ons huur. Ons huisma het reeds ingetrek. Ons het pragtige splinternuwe beddens asook linne geskenk gekry en is gereed om die eerste kinders in te neem. Ons wag net vir die registrasie voordat ons volstoom kan begin. Huidiglik word die huis reeds gebruik om kinders wat in pleegsorg is in die middae kos en huiswerkhulp te gee. Hierdie is ‘n baie groot geloofstap aangesien die kostes baie hoog is om so huis te onderhou. Enige hulp en ondersteuning sal opreg waardeer word. 

6.   Opleidingsentrum :-
Ons is al 2 jaar besig om minderbevoorregte vroue op te lei om hul eie inkomste te kan genereer. Huidiglik is hulle op ‘n 10 weke klere-regmaak kursus. Sodra hulle die kursus suksesvol afgele het wil ons graag vir elke vrou ‘n naaldwerkmasjien gee sodat hulle in hul eie gemeenskap ‘n inkomste kan begin verdien. Die projek het baie suksesverhale en ons is baie opgewonde oor ons goed ingerigte opleidingsentrum. Ons beplan om binne die volgende maand met ‘n manne-opleidingsprojek te begin. Ons het reeds die plek, die plan en alles gereed. Ons benodig nog net houtwerk toerusting dan kan hulle wegspring. Hierdie projek gaan waarlik lewens verander aangesien hulle nie net ‘n vis gegee word nie maar geleer word om self ‘n vis te vang.
7.   Baba ondersteuning :-
Ons koop baie melk en doeke aan. Arm mense gee baie keer flou aangemaakte melk of sommer rooibostee of selfs net water as hulle nie melk het nie wat wanvoeding by babas veroorsaaak. So begin ‘n aaklige sirkel van wanvoeding wat onderprestasie en leerprobleme op skool en uiteindelik werkloosheid omdat hulle nie skool suksesvol kon voltooi nie.
Ons wil dan net ook noem dat ons nie net as ‘n ”Non-Profit-Organisation” (NPO) geregistreer is nie maar nou ook as ‘n “Public-Benefit-Organisation“ (PBO). Ons kan dan ook wettige donasie-sertifikate uitreik in terme van Artikel 18A van die Inkomstebelastingwet van 1962.

Ons glo werklik dat ons op aarde geplaas is om mekaar se laste te dra en God se liefde na mense toe te bring. Niemand wil elke dag van sy lewe so sukkel nie. As jy op jou hart voel om op enige manier betrokke te wees of te help sal ons dit opreg waardeer! Baie dankie aan elkeen wat reeds help!!!! Saam kan ons ‘n groot verskil maak.

Ef 3v 20 “Now to Him Who, by the power that is at work within us, is able to do superabundantly, far over and above all that we ask or think (infinitely beyond our highest prayers, desires, thoughts, hopes, or dreams)”
  
Baie seën!


Back Back to top